LIMPOPO. – ‘n Onderwyser (29) van die St. Peter Combine Church School in Apel-polisiëringsgebied sal na verwagting vandag op ‘n klag van aanranding op ‘n leerder, met die doel om ernstig te beseer, in die Sekhukhune-landdroshof verskyn.
Brig. Hlulani Mashaba sê ‘n matriekmeisie het Sondag by die koshuis in haar kamer sit en studeer toe die onderwyser na bewering haar kamer binnegaan en haar met ‘n gordel en skoen aangerand het. Sy is met beserings en kneusplekke na ‘n hospitaal geneem en het later die voorval by die polisie aangemeld.
Die verdagte het homself vanoggend aan die polisie oorgegee, waarna hy in hegtenis geneem is.
Die polisie ondersoek die omstandighede wat tot die voorval gelei het.