KWAZULU-NATAL. – ‘n Onderwyseres (46) is vanoggend by Laerskool Phikiswayo op die skoolperseel in Richmond Farm doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê twee verdagtes het verskeie skote geskiet en van die toneel gevlug. ‘n Vrou is op die toneel dood verklaar.
Muzi Mahlambi, van die KZN-onderwysdepartement, sê Sipho Hlomuka, die LUR vir onderwys in die provinsie, het sy hartseer oor die voorval uitgespreek.
“Ons is hartseer oor die verlies van ‘n toegewyde opvoeder. Ons gedagtes en gebede is by
die familie en skoolgemeenskap gedurende hierdie moeilike tyd.”
Mahlambi sê in ‘n verklaring die distriksdirekteur, kringbestuurders en verteenwoordigers van die Spesiale Behoeftes Onderwysdienste (SNES) is vir die nodige ondersteuning aan die betrokke partye na die toneel gestuur.
Die onderwysdepartement het die insident sterk veroordeel en wetstoepassers versoek om geregtigheid te laat geskied.
Enigiemand met inligting wat die polisie in hulle ondersoek kan help, word gevra om die polisie te kontak.