Ongeluk ná kerkdiens eis 13, insluitend kind (7)

Lees ook :

Foto: Limpopo Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid

LIMPOPO. – Altesaam 13 persone, insluitend ‘n jong meisie van sowat 7 jaar oud, het Sondag in ‘n ongeluk tussen ‘n minibustaxi en twee vragmotors op die R81 naby Ga-Sekgopo, Mooketsi gesterf.

Sipho Phillemon Maloma van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) sê al die oorledenes, insluitend die bestuurder, was insittendes van die taxi. Die groep was op pad van ‘n kerkdiens in Solomondale na Mogoro buite Gyiyani. Nooddienste het die hele middag op die toneel gewerk om slagoffers by te staan en die pad weer veilig te maak. Die organisasie het meegevoel met die families van die oorledenes betuig. Maloma het verder bevestig die organisasie werk saam met die owerhede om bestaande veiligheidsmaatreëls te herevalueer om soortgelyke tragedies in die toekoms te probeer voorkom.

Dr. Phophi Ramathuba, die premier van Limpopo, het vanoggend (Maandag) haar skok en innige medelye in ‘n verklaring betuig, waarin gesê word voorlopige verslae dui aan 12 persone het gesterf. Ramathuba sê die provinsiale regering staan in solidariteit met die families in hierdie moeilike tyd. Nood-en-reddingspanne van Limpopo Emergency Medical Services was Sondag op die toneel om die situasie te bestuur en die beseerdes by te staan.

Ramathuba het aangekondig dat sy Maandagmiddag saam met Violet Mathye, die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, en Diketseng Mashego, die LUR vir gesondheid, met die families in die Pietersburg-hospitaal se ontspanninsaal vergader. Hulle sal ondersteuning met die identifikasieproses bied.

Die pad waar die ongeluk plaasgevind het, is eers weer ná middernag vir verkeer geopen.

“Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om waaksaam te wees en padveiligheidsreëls streng na te kom. Hierdie tragedie herinner ons aan die noodsaaklikheid van groter bewusmaking op ons paaie,” het die premier afgesluit.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief