Brekende Nuus
Afrikaans

Ons eie Kevin Lerena boks vandag in Saoedi-Arabië

Met ‘n rekord van 30 oorwinnings en slegs twee nederlae kon veertien van Kevin se opponente nie hul bewussyn tot die laaste rondte behou nie.

Foto: Kevin Lerena Instagram
Foto: Kevin Lerena Instagram

Kevin Lerena van Suid-Afrika sal vanmiddag teen Justis Huni in Saoedi-Arabië in aksie wees. Las Vegas is nie meer die mekka van boks soos in die verlede nie. Daai titel het geskuif na
Saoedi-Arabië, toe groot boksentoesias Sy Eksellensie Turki Al-Sheikh die rol van voorsitter
van die Islamitiese solidariteitsportfederasie beklee het en besluit het om honderde
miljoene rande in sy gunstelingsport te belê.

Sedert verlede jaar het hy die beste van die beste met die grootste name na sy land gelok en gevegte aanmekaargesit wat enige boksliefhebber laat bewe van opwinding!

Komende Vrydagmiddag vanaf 17:00 op DAZN PPV, wat teen ‘n stewige R375.00 in Suid-Afrika beskikbaar is, veg die legendariese Anthony Joshua van Brittanje teen die voormalige UFC-swaargewigkampioen Francis Ngannou. Ngannou hou die rekord vir die hardste aangetekende vuishou in die wêreld.

Die hele vegkaart is met talent en groot name gestrooi. Niemand anders nie as ons eie Kevin Lerena neem ook daaraan deel. Hy gaan kompeteer teen die onoorwonne Australiese Justis Huni wat spog met ‘n professionele rekord van agt oorwinnings met vier uitklophoue. Maar Kevin is geen vreemdeling in hierdie sport nie. Met ‘n rekord van 30 oorwinnings en slegs twee nederlae kon veertien van sy opponente nie hul bewussyn tot die laaste rondte behou nie.


Beide vegters is uitsonderlik vinnig met hulle hande en voete. Dit behoort ‘n opwindende
geveg te wees vir so lank as dit aanhou.