MPUMALANGA. – Tristan Jansen van Vuuren (19) en vier van sy vriende was Saterdag in ‘n ernstige motorongeluk op die R40 buite Barberton betrokke. Hy is volgens ‘n skarebefondsingsprofiel in ‘n ernstige toestand in die Rob Ferreira-hospitaal waar hy vir ernstige breinbeserings en aanhoudende aanvalle behandel word. Bianca Nortjé het as gevolg van die ongeluk haar lewe verloor.
Nicolene Burnett, wat ‘n BackaBuddy profiel vir Tristan geskep het, sê hy veg tans vir sy lewe. Hy is volgens Burnett aan masjiene gekoppel wat vir hom asemhaal, met sy familie wat deurentyd by hom is. Hoewel dokters reeds alles moontlik gedoen het, moet hy dringend na Mediclinic Nelspruit oorgeplaas word vir gevorderde neurologiese sorg en moontlike lewensreddende operasies. Die skuif kan hom ‘n kans op lewe gee. Die familie probeer R500 000 insamel om die noodoorplasing en verdere spesialisbehandeling te dek. Byna R130 000 is reeds binne enkele dae ingesamel.
Daleen Jansen van Vuuren sê Dinsdag op Facebook: “Ons seun sal aanhou veg en hy sal ons almal nog baie meer gryshare kom gee. Ons as familie wil net dankie se vir elke gebed, oproep of boodskap, julle besef nie hoeveel dit vir ons beteken nie.” Vandag (Woensdag) sê sy: “Vandag kom ons as Tristan se familie met groot dankbaarheid in ons harte baie dankie sê vir elke donasie hoe klein of groot. Julle besef nie wat dit vir ons as familie beteken om te sien daar is soveel mense wat vir ons Tristan omgee nie. Vir elke gebed, boodskap en oproep baie dankie vir almal se liefde en ondersteuning.” Druk hier om meer te lees.
Volgens ‘n berig van die De Kaap Echo in Barberton was Tristan, Stephen (19) en Bella (10) van der Lith, Bianca Nortjé (19) en Chaandré Meyer (19) in die voertuig wat Tristan bestuur het. Niemand in die Landrover, die tweede voertuig in die ongeluk, is beseer nie.
Oikos Private School / Tutor Centre hou Vrydag ‘n afskeidsdiens vir Bianca, wat in ‘n verhouding met Stephen was.
Foto: Bianca Nortjé Facebook-blad.

Foto: Stephen van der Lith Facebook-blad:

Druk hier om meer te lees.





