WES-KAAP. – Ayanda Dayi is deur die Wynberg-hooggeregshof tot vier keer lewenslank, plus ’n verdere 102 jaar direkte gevangenisstraf vir vier moorde, poging tot moord, gewapende roof en vuurwapenoortredings in Delft en Du Noon gevonnis. Twee van die slagoffers is gedurende Mei in Delft doodgeskiet terwyl hulle brood by ’n spaza-winkel afgelewer het, terwyl nog twee mans vroeër dieselfde jaar in Du Noon gekaap en doodgeskiet is.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die vonnis volg op ’n deeglike ondersoek deur die gebruik van onder meer gesigsherkenningstegnologie en suksesvolle vervolging wat gelei het tot skuldigbevindings op al die aanklagte teen Dayi. Die staat het aangevoer dat Dayi, wat ten tyde van die moorde op parool was vir ’n vorige verkragting, ’n duidelike gevaar vir die gemeenskap inhou. Die hof het bevind dat sy herhaaldelike gewelddadige optrede en gebrek aan insig in sy misdade sy kanse op rehabilitasie uiters gering maak.
Hy sê die beskuldigde het uitermatige wreedheid teenoor weerlose, ongewapende slagoffers getoon en dat die strawwe die erns van die misdade weerspieël. Die hof het Dayi lewenslank gevonnis vir elk van die vier moorde. Daarby is hy 15 jaar gevangenisstraf opgelê vir elke aanklag van roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir elke aanklag van onwettige vuurwapenbesit, vyf jaar vir diefstal van ’n vuurwapen en vier jaar vir elke aanklag van onwettige besit van ammunisie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Waarnemende regter Van Leeve het in haar uitspraak gesê Dayi se optrede was uiters gewelddadig en dat hy geen berou toon nie. Sy het beklemtoon dat die beskerming van die publiek in sulke sake voorrang moet geniet, veral waar daar ’n patroon van berekende en herhaalde geweld is. Volgens die hof was daar geen wesenlike of dwingende redes om van die voorgeskrewe minimum vonnisse af te wyk nie.





