Lees ook hier soos voorheen deur verslaggewer Zelda Mans berig.
LIMPOPO. – ‘n Vrou (34) se ontbinde liggaam is Donderdag ongeveer 19:00 in ‘n vlak graf by ‘n woonplek in Ga Marishane Dihlaganeng-seksie aangetref. Dit is nadat die polisie die vorige dag die liggaam van haar man (38) gevind het waar hy van die plafon gehang het.
Volgens kol. Malesela Ledwaba het bure die polisie oor ‘n slegte reuk in kennis gestel. Die woonplek se deur is oopforseer en die man se liggaam, hangende aan ‘n tou, is in ‘n gevorderde stadium van ontbinding aangetref. ‘n Selfdoodnota was op die toneel. ‘n Meisietjie (3) het haar na polisielede gehaas toe polisielede die woonplek betree.
Sy is vir mediese aandag na die naaste hospitaal geneem.
Donderdag is die soektog met behulp van die honde-eenheid na die vrou onderneem en lede het die vlak graf, opgevul met hout, naby die huis opgemerk en oopgegrawe. Hulle het op die vrou se liggaam, ook in ‘n gevorderde toestand van ontbinding, toegedraai in ‘n kombers, afgekom.
‘n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die oorledenes se dood vasstel. Hulle is deur die polisie geïdentifiseer, maar name word weerhou omdat die kind minderjarig is.
Die polisie-ondersoek na die moord en geregtelike doodsondersoek duur voort.





