KRUGERWILDTUIN, SUID-AFRIKA. – Drie leeus is Sondag weer in die Krugerwildtuin vrygelaat nadat hulle Saterdag na ’n aangrensende gasteplaas “ontsnap” het.
Isaack Phaahla, Kruger Nasionale Park se woordvoerder, sê die drie leeumannetjies het na die gasteplaas padgegee in ’n poging om van ’n bakleiery tussen ’n groep leeus te ontsnap.
Crocodile Bridge Safari Lodge het beeldmateriaal gedeel wat wys hoe hulle die eerste twee van die leeus naby die ingang van die gasteplaas aangetref het. Verdere video’s wys waar ’n veearts, tegnici en veldwagters die drie leeus verdoof en terug na die wildtuin vervoer.
Die hele proses het vyf uur geneem. Geen beserings is by die mense of die leeus aangemeld nie. Twee van die oorspronklike leeus het later weer na die gasteplaas ontsnap en moes weer na die wildtuin teruggeneem word.
Bronne: Crocodile Bridge Safari Lodge, IOL





