OOS-KAAP. – ‘n Meisie (9) is glo op 3 Februarie onderweg van haar skool in Buffalo Flats op pad huis toe ontvoer. Sy is vanoggend (Woensdag) vrygelaat en drie verdagtes het op aanklag van ontvoering in die Oos-Londen-landdroshof verskyn.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, woordvoerder vir die Valke in die provinsie, sê twee verdagtes het die meisie in ‘n silwerkleurige Toyota Corolla na ‘n onbekende plek geneem. Met samewerking van verskeie polisie-eenhede is die verdagtes op 5 Februarie in hegtenis geneem. Die verdagtes het die volgende dag in die hof verskyn, waarna die saak uitgestel is en hulle in aanhouding gebly het. Al drie die verdagtes is met die misdaad verbind en met aanhoudende druk wat toegepas is, is die meisie vanoggend vroeg, ongeskaad, by Inyibiba-polisiestasie, gelaat. Die verdagtes het vandag in die hof verskyn en die saak is vir ‘n formele borgaansoek tot 19 Februarie uitgestel.
Meer inhegtenisnemings word verwag soos wat die ondersoek vorder.





