NOORDWES. – Petrus Jacobus Buys (71), ook bekend as Bakkies, is glo Dinsdagaand by Elandskraal in die Mooinooi-polisiëringsgebied naby Brits uit sy huis ontvoer. Hy is Woensdagaand ongedeerd in Johannesburg, Gauteng, opgespoor.
Luidens ‘n verklaring deur brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het ‘n onbekende aantal verdagtes volgens beskikbare inligting die huis betree terwyl Buys nie tuis was nie. Toe hy tuiskom, is hy oorval en in ‘n voertuig gedwing. Die verdagtes het met hom weggejaag.
Mokgwabone sê voorts Buys is deur gesamentlike volgehoue pogings van speurders, sigbare polisiëring, misdaadintelligensie, Mooinooi-gemeenskapspatrolleerders en verskeie privaatveiligheidsdienste ongedeerd gevind.
Die motief vir die ontvoering is nog onbekend en die ondersoek duur voort om die skuldiges te identifiseer en in hegtenis te neem.
Mike Bolhuis van Specialised Security Serices sê die voorval het tussen 23:00 en middernag plaasgevind. Die heining is geknip om toegang tot die eiendom te verkry. Die verdagtes het glo met Buys in twee wit voertuie van die toneel gevlug. Enigiemand met relevante inligting is gevra om na vore te kom. Bolhuis het bevestig Buys is veilig gekry.
‘n Ontvoeringsaak is deur die Mooinooi-polisie geregistreer.





