GAUTENG. – ’n Indiër sakeman wat op 23 Julie by ‘n sakeperseel in Benoni ontvoer is, is Donderdagoggend, kort na middernag, in ‘n shack in Alexandra deur die polisie se teen-ontvoeringstaakspan gered. Die vermeende meesterbrein agter die ontvoering is doodgeskiet.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n skietgeveg het tydens die reddingstog uitgebreek. Die verdagte wat doodgeskiet is, ook bekend as “Dollarman”, was ’n gesoekte ontvoerder in Suid-Afrika sowel as Mosambiek. Hy is ook op SERNIC, Mosambiek se databasis van gesoekte persone, gelys. Hy word met verskeie ontvoerings in Mosambiek, waar lospryse gevra is, gekoppel. In Suid-Afrika is hy met minstens vyf soortgelyke gevalle en misdade verbind, wat inbraak, kapings en die besit van ongelisensieerde vuurwapens insluit.
Mathe sê voorts die polisie se teen-ontvoeringstaakspan het sedert Julie 2021 meer as 337 ontvoerders in hegtenis geneem en meer as 146 onwettige vuurwapens op misdaadtonele gekonfiskeer.





