GAUTENG. – Vyf verdagtes is Vrydag by hulle ontmoetingsplek in Melrose Arch in hegtenis geneem nadat die polisie tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie ‘n ontvoering vir ‘n losprys gefnuik het.
Brig. Athlenda Mathe sê die verdagtes sluit twee burgers van SA, twee van Uganda en een van Malawië in. Inligting is ontvang van ‘n vrou wat glo beplan om haar werkgewer vir geld te ontvoer. Die werkgewer sou na bewering gedwing word om groot bedrae geld uit haar bankrekening te onttrek. Die polisie het voorgegee om nou met haar saam te werk en het ‘n lokval vir die verdagte gestel. ‘n Skynontvoering is beplan.
“Die SAPD behou die reg voor om nie in detail in te gaan oor hoe die operasie uitgevoer is nie, aangesien dit sal blootlê hoe intelligensie-gedrewe operasies uitgevoer word.”
Mathe bevestig wel die skynontvoering het tot die sindikaat se mislukking gelei.
“Terwyl hulle beplan het om die geld wat ‘oorgeplaas’ is na die ‘ontvoering’ van hierdie ‘vroulike werkgewer’ te onttrek, is die vyf verdagtes op aanklagte van sameswering om te ontvoer en afpersing gearresteer.”
Die polisie het drie voertuige – ‘n Range Rover, ‘n Toyota Ayga en ‘n Wit Polo Vivo – asook selfone gekonfiskeer.
Genl. Fannie Masemola het die suksesvolle operasie en inhegtenisnemings geprys: “Dit was ‘n sensitiewe operasie, maar deur die ervaring en vaardighede van ons georganiseerde misdaad-en-intelligensiespan het ons daarin geslaag om die rug van hierdie sindikaat te breek. Ons glo wel dat ons baie ander ontvoerings gefnuik het deur die aftakeling van hierdie sindikaat. Ondersoeke duur voort om vas te stel of hulle veral vir ‘n losprys met ander ontvoerings verbind kan word.”
Mathe sê die suksesvolle operasie is te danke aan die ondersteuning van rolspelers wat privaat sekuriteit en die EMPD insluit.