WES-KAAP. – In die Joshlin Smith-saak is klagtes vandag teen Phumza Sigaqa weens onvoldoende bewyse teruggetrek. Die staat het uitstel gevra om inligting op te volg oor waar die vermiste meisie moontlik kan wees.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê daar is tans nie genoegsame bewyse om Sigaga te vervolg nie. Inligting oor waar Joshlin moontlik kan wees, moet opgevolg word. Dit is ook moontlik dat meer beskuldigdes geïdentifiseer kan word.
Ntabazalila bevestig die ander drie beskuldigdes – Jacques Rowhan Appolis (Kelly se kêrel), Steveno van Rhyn en Racquel Chantel Smith (Joshlin Smith se ma Kelly) – het hul reg tot aansoek vir borg laat vaar. Indien die beskuldigdes volgens hom van besluit verander om vir borg aansoek te doen, sal die staat dit opponeer omdat daar geglo word daar is ‘n saak waarin hulle antwoorde moet verskaf.
Die ondersoekers moet nog getuieverklarings verkry en data-analise van die beskuldigdes se selfone doen.
Die beskuldigdes word van mensehandel met die doel om uit te buit en ontvoering aangekla. Ntabazalila sê soos wat die ondersoek vorder, bestaan die moontlikheid dat meer beskuldigdes en meer klagtes moontlik bygevoeg kan word.
Die saak kom weer op 13 Mei voor.





