GAUTENG. – ‘n Man (32) is lewenslank in die Booysens-landdroshof gevonnis vir die verkragting van sy 6-jarige niggie wat gedurende 2010 in Naturena plaasgevind het.
Phindi Mjonondwane sê die veroordeelde man was tyde van die herhaalde verkragting 18 jaar oud. Die meisie se ouers was by die werk en sy is in die oom se sorg gelaat.
“Sers. Mabizela se ondersoek het aan die lig gebring dat die oom die meisie en haar jonger broer gereeld skool toe sou neem. Sonder die familie se wete het hy gruwelike misdade teen die jong meisie gepleeg, met die mishandeling wat amper weekliks plaasgevind het.”
Die meisie, nou ‘n volwasse vrou, het die oom in 2020 die gekonfronteer, waarna hy sy misdade erken het.
“Ten spyte van sy vroeëre erkenning het die beskuldigde in die hof onskuldig gepleit en ‘n verweer van blote ontkenning geopper. Sy regspan het aangevoer dat die slagoffer nie die misdaad betyds aangemeld het nie en dat baie jare verloop het.”
Melash Israel, die waarnemende streekshofaanklaer, het dwingende verswarende bewyse, soos die erns van die misdaad en dat die slagoffer slegs ses jaar oud was, voorgehou.
“Die hof het die beskuldigde se verweer verwerp en opgemerk hy het die vertroue wat sy broer in hom gestel het om vir die kind te sorg, verbreek.”





