MPUMALANGA. – ‘n Man (27) van KwaMhlushwa is deur die Boschfontein-streekhof tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy aan drie aanklagte van die verkragting van sy 10-jarige niggie tussen 2019 en 2020 skuldig bevind is.
Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer het tussen 2019 en 2020 saam met haar grootouers en die beskuldigde in dieselfde huis in KwaMhlushwa gewoon. Op drie afsonderlike geleenthede het die beskuldigde die afwesigheid van die grootouers uitgebuit om die kind in sy kamer te verkrag. In een voorval het hy haar van haar speelmaat weggeroep en verkrag. Die kind het haar ouma daarvan vertel, waarna dié haar onmiddellik vir mediese hulp geneem het. Mediese ondersoek het beserings aan die kind bevestig, waarna die polisie ingelig is en die beskuldigde in hegtenis geneem is.
Nyuswa sê alhoewel die beskuldigde op die aanklgte teen hom onskuldig gepleit het, het Joshua Sibeko, die staatsaanklaer, oorweldigende bewyse aan die hof voorgelê. Dit sluit die slagoffer se getuienis en ‘n J88-mediese verslag in. In die slagoffer-impakverklaring is die aanhoudende vrees vir mans en ‘n merkbare agteruigtang in haar skoolprestasie genoem.
Die hof het die beskuldigde se verweer as ongeloofwaardig verwerp. Hy is op al drie aanklagte van verkragting skuldig bevind. Ter verswaring het die aanklaer betoog dat die beskuldigde sy posisie as familielid misbruik het en die vertroue van die kind en haar gesin verraai het. Hy het die hof versoek om die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf op te lê. Daar bestaan egter wesenlike en dwingende omstandighede wat die hof van ‘n lewenslange vonnis laat afwyk het en die beskuldigde is tot 20 jaar gevangenisstraf op elke aanklag gevonnis. Die vonnisse op aanklagte 2 en 3 sal gelyktydig met aanklag 1 uitgedien word, wat neerkom op doeltreffende tronkstraf van 20 jaar.
Die hof het ook beveel dat die beskuldigde se naam in die nasionale register vir seksoortreders geplaas word en het hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





