VRYSTAAT. – Marius van Rensburg, oftewel oom Van en sy hond Emma, het Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 vermis geraak. Hulle het met sy motor weggery en is eers die volgende oggend veilig gevind.
Volgens Chanté Kelder, mediaskakelbeampte van AfriForum in die Hoogland, het Van Rensburg gevorderde demensie. Sy vrou, Erika, het hom Dinsdagmiddag vir ‘n doktersafspraak geneem waarna hy en Emma weg is in die motor. Erika het dadelik vir Jeandre Visagie, ‘n AfriForum-buurtwaglid, gebel.
Nog meer buurtwaglede het met ‘n soektog na Van Rensburg begin. Die kamerastelsels van BethSec Sekuriteit en BBS-Bethlehem-beheersentrum is ook ingespan. Die soekery het tot 22:00 voortgeduur, waarna dit gestaak is en die volgende oggend om 06:00 hervat is. Omstreeks dieselfde tyd is Van Rensburg by die ingang van die plaas Soete Inval gevind.
Alhoewel hy moeg en vol skraapplekke was, was hy by sy volle bewussyn. Hy is vir waarneming in ‘n hospitaal opgeneem. Emma was ook veilig in die motor.
Erika van Rensburg, ‘n voormalige onderwyseres van Hoërskool Witteberg en ‘n geliefde in die gemeenskap, het haar dankbaarheid teenoor almal wat help soek het, uitgespreek.
“Dit is regtig ’n wonderwerk dat oom Van die nag in die Bethlehem-koue deurgebring het en steeds ongedeerd is. Dit is slegs genade van Bo en ’n gemeenskap se omgee wat sulke wonderwerke laat gebeur,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Foto: AfriForum Hoogland





