GAUTENG. – ’n Man (34) van Theresa Park is deur die Pretoria-Noord-landdroshof tot drie keer lewenslank gevonnis. Hy is skuldig bevind aan verskeie aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en blootstelling van kinders aan pornografie, wat met sy niggies en neef verband hou.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die misdade het tussen 2013 en 2018 plaasgevind. Die beskuldigde het sy twee niggies en neef in hulle ouerhuis in Theresa Park besoek waar hy die kinders geforseer het om na pornografie te kyk, hulle sy geslagsdele getoon en die niggies verkrag het toe die oupas en oumas weg was. Die misdade is by die polisie aangemeld en die man is op 12 Oktober 2018 in hegtenis geneem.
Tydens vonnisoplegging het die hof addisioneel 25 jaar tronkstraf vir vyf aanklagte van seksuele aanranding, 12 jaar vir drie aanklagte van blootstelling aan pornografie, agt jaar vir twee aanklagte van blootstelling van sy geslagsdele aan die kinders en agt jaar vir poging tot verkragting opgelê. Die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnisse uitgedien word en die beskuldigde se naam sal in die nasionale register vir seksoortreders aangebring word. Hy is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk en om ‘n vuurwapen te besit.
Mahanjana het gesê die beskuldigde het in die hof onskuldig gepleit, maar Hanlie du Preez, die aanklaer,het oortuigende getuienis van die slagoffers aangebied. Die hof het geen redes gesien om van die voorgeskrewe minimum vonnisse af te wyk nie. Die hof het bevind dat die beskuldigde geen berou toon nie en sy posisie van vertroue misbruik het. Sy dade het ernstige en langdurige trauma veroorsaak.
Die NVG het sy oproep herhaal dat Suid-Afrikaners moet saamstaan teen geslagsgebaseerde geweld om kinders se reg op veiligheid en waardigheid te beskerm.