NOORDWES. – Daniel Mathuse (33) is ‘n lewenslange vonnis vir die ontvoering en twee aanklagte van verkragting van sy negejarige niggie in die Potchefstroom-streekhof opgelê.
Sivenathi Gunya, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê die slagoffer was nege jaar oud toe haar oom haar op 27 Julie 2020 ontvoer en verkrag het. Die beskuldigde het die slagoffer probeer weglok waar sy met haar broer gespeel het, maar sy het geweier. Hy het haar met geweld gevat en naby ‘n dam verkrag.
Daar is na haar gesoek en toe sy gekry is, het sy vertel wat met haar gebeur het, waarna die beskuldigde dieselfde dag nog gearresteer is. Die beskuldigde het eers onskuldig gepleit, maar het met getuienis van die slagoffer en DNS-verslag wat beskikbaar gestel is, ‘n formele bekentenis ingevolge die strafproseswet gemaak.
Hester Pretorius, die staatsaanklaer in die saak, het ter strafverswaring argumenteer ‘n afskrikvonnis moet opgelê word omdat ‘n jong meisie se regte geskend is. Pretorius het aangedring die hof moenie van die minimum voorgeskrewe vonnis afwyk nie.
Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis geprys.