Ooreenkoms oor Wilgenhof bereik

Lees ook :

Foto: Wilgenhof Facebook

WES-KAAP. – ‘n Ooreenkoms is tussen die Universiteit Stellenbosch en die Wilgenhof Alumnivereniging oor die toekoms van die omstrede Wilgenhof-manskoshuis bereik.

Martin Viljoen van die US sê in ‘n verklaring: “Die partye is verheug om aan te kondig dat ’n dooiepunt oor die naamgewingsproses van die koshuis opgelos is, wat die weg gebaan het vir die skikking in die saak tussen die partye. Dit bring dan ’n einde aan die litigasie van die WAV teen die US.”

Daar is gedurende 2024 bewerings oor onaanvaarbare en geheimsinnige praktyke by die koshuis gemaak. Items is in van die kamers ontdek wat nie met waardes en verwagtinge ooreengestem het nie. Die inhoud van hierdie kamers is deur Viljoen as argivaries van aard bestempel, waarvan gebruike van oor meer as 100 jaar strek. Van die gebruike is egter oor jare of gestaak, of hervorm.

“Die inwoners en alumni van Wilgenhof is tot die voortdurende vernuwing van Wilgenhof verbind, wat inherent is aan sy kultuur en waardes. Hierdie proses het in 2020 begin en is verdere stukrag gegee deur die fasiliteringsproses wat die US in 2024 van stapel gestuur het om ‘n herskepte en herverbeelde koshuis te bewerkstellig. In die mate dat daar enige onaanvaarbare praktyke oorbly, verwag die US dat die Wilgenhof-gemeenskap ’n duidelike breuk met hierdie praktyke sal maak as deel van die gefasiliteerde proses wat ’n katalisator vir die voortgesette transformasie van die US en sy koshuise sal wees.”

Die US het in die verklaring erken die Wilgenhof Alumnivereniging (WAV) en inwoners se reputasie het tydens die hantering van die aangeleentheid skade ogpedoen. Voorts vra die US om verskoning en sê dit was nie die bedoeling nie.

“Die US beskou spesifiek nie Wilgenhoffers van die verlede of hede as fisiese of seksuele misbruikers, rassiste of Nazi’s nie, en wil dit onomwonde stel. Die US betreur en vra om verskoning dat hy nie die ongunstige medianarratief in hierdie verband teëgewerk het nie. Die US is daartoe verbind om saam met die Wilgenhof-inwoners te verseker dat die gemeenskap (soos alle koshuisgemeenskappe) binne die waardes en verwagtinge van die US-gemeenskap kan floreer.”

Op sy beurt het die WAV die inhoud van die twee kamers as ‘n ontstellende en pynlike eraring vir sommige van die US-gemeenskap beskryf.

“Die WAV vra namens die WAV en huidige inwoners alle belanghebbendes van die US om verskoning vir die onsteltenis wat veroorsaak is. Hoewel geen kwaad bedoel is nie, en hoewel baie Wilgenhoffers ’n ander perspektief op elemente van die saak het, erken die WAV dat die inhoud van die twee vertrekke, vanuit ’n buiteperspektief gesien, nie aanvaarbaar of in ooreenstemming met die norme van vandag se samelewing, asook die US se 2040-visie en sy waardes is nie. Die WAV vertrou dat die Wilgenhof-manifes ’n belangrike oorweging in die vernuwingsproses sal wees wat tans deur kundiges gefasiliteer word. Die Wilgenhof-manifes is deur die huidige inwoners van Wilgenhof verfyn en is ook deur meer as 1 300 Wilgenhof-alumni onderskryf. Die WAV sien uit daarna om saam met die US-bestuur te werk om die nuwe energie ter ondersteuning van ‘n trotse wêreldklas- en herskepte koshuis aan te wend om Suid-Afrika vir geslagte lank te dien.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief