Oos-Kaap-ontvoerings – drie verdagtes Woensdagoggend in hof

Lees ook :

Foto: Specialised Security Services

OOS-KAAP. – Drie ontvoeringsverdagtes verskyn vanoggend (Woensdag) in die Port St. Johns-landdroshof.

Lt.kol. Avele Fumba, woordvoerder vir die Valke in die provinsie, sê die verdagtes word aan die mees onlangse ontvoerings gekoppel.

Nuusflits het voorheen soos volg berig.

Die Valke sê die provinsiale taakspan het ‘n ontvoeringsindikaat se ruggraat binne 10 dae gebreek.

AO Majola Nkohli, woordvoerder vir die Valke, sê die deurbraak het gekom nadat twee vroue wat afsonderlik ontvoer is, binne 10 dae veilig met hulle families herenig is. Die slagoffers is gered en beslag is op drie gesteelde voertuie en drie ongelisensieerde voertuie gelê. Arrestasies is gemaak en vier verdagtes is noodlottig gewond.

Op 17 September is ‘n Chinese vrou (34) na bewering tussen Barkly-Oos en Elliot in ‘n Mercedes-Benz Vito gekaap en ontvoer. Op 20 September is Alize van der Merwe (39) na bewering naby Mthatha in ‘n Toyota Fortuner gekaap en ontvoer. Die voertuig is kort daarna verlate buite Mthatha gevind.

“‘n Taakspan bestaande uit misdaadintelligensie, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke), provinsiale opsporingspan, gyselaarsonderhandelaars, nasionale intervensie-eenheid en die taktiese reaksiespan is opdrag gegee om aan die twee ontvoeringsake te werk.”

Nkohli sê die taakspan het op 23 September aan die sake begin werk. Inligting het die span na ‘n huis in Qoboqobo (Keiskammahoek) gelei, waar vier verdagtes in ‘n skietery met die polisie gedood en een gewond is. Beslag is gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, sowel as ‘n goue Toyota Hilux, wat in die Wes-Kaap gesteel is en ‘n wit Opel Corsa wat in Dimbaza gesteel is.

Op 25 September is ‘n man (32) en ‘n vrou (34) wat in ‘n ‘n wit Toyota Rumion buite Cradock op reis was, gearresteer. Met voorlopige ondersoek is bevind die voertuig is in die Wes-Kaap gesteel. Die twee verdagtes is ook aan die ontsnappingsindikaat gekoppel en sal op 30 September op aanklag van die besit van gesteelde eiendom in die Cradock-landdroshof verskyn. Die twee verdagtes gaan ook op aanklagte van ontvoering in die Port St. John-landdroshof voorkom.

Met druk van die ondersoekspan is die twee slagoffers op 26 September deur die sindikaat naby Sulenkama vrygelaat. Die vroue is ongedeerd en geen losprys is aan die sindikaat betaal nie.

“Die ondersoek duur voort met ‘n moontlikheid van nog arrestasies en/ of terugvind van items. Die gesteelde Mercedes-Benz Vito word steeds vermis.”

“Dit was onverpoosde samewerking tussen die Valke en ander gespesialiseerde eenhede wat verseker dat ons uiteindelik positiewe resultate het. Ons is inderdaad tevrede met die uitkomste, wat ons hoop diegene sal afskrik wat in die toekoms soortgelyke kriminele aktiwiteite wil aanpak. Ons het baie hulpbronne in hierdie span belê, en die resultate begin wys,” sê lt.genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale kommissaris.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App