‘Oos-Kaap sien ons nie gou weer nie’ – familie oor nagmerrie ondervinding

Lees ook :

Foto's: Verskaf

Allen Hutchison, sy vrou Yvonne, hulle kinders en ‘n maat van die kinders, het tydens ‘n 40ste verjaarsdagvieringvakansie in die Oos-Kaap onder booswigte deurgeloop en wonderbaarlik oorleef. Die gesinsvakansie het in ‘n nagmerrie ontaard. Die gesin van Kimberley voel deur hulle storie aan Nuusflits te vertel, kan ander mense gewaarsku word.

“Dit was ‘n skrikwekkende beproewing wat dalk so anders kon geëindig het. Ons is dankbaar om te lewe.” sê Yvonne.

Allen vertel hulle is vir Yvonne se 40ste verjaarsdag vir vyf dae na Koffiebaai toe. Aangesien hulle al voorheen daar was en die omgewing ken, wou hulle met die vinnige wegbreek-strandvakansie vir die kinders Koffiebaai wys.

“Dit het baie gereën, so ons het rondgery en plekke gaan kyk. Toe Saterdag 21 September ‘n mooi sonskyndag is, het ons besluit om na Mdumbi-strand toe te gaan.”

Dit was teen twee-uur toe die jolige vakansiegangers besluit het om terug te keer na Koffiebaai, wat die ondenkbare met hulle gebeur het.

“Op die Mdumbipad voordat jy weer by die teerpad kan aansluit, was daar skielik drie groot klippe in die pad voor ons. Ek kan dit met drie groot potplante vergelyk. My eerste gedagte was die pad is toe omdat daar weens die reën iets aan die pad herstel moes word.”

Voordat enigiemand egter kon reageer, het twee mans uit die bosse te voorskyn gekom. Allen en Sillo, ‘n gids wat hulle rondgewys het, het in die voorkant van die Isuzu-dubbelkajuitbakkie, wat die gesin nog net ses maande het, gesit. Yvonne het agter Allen gesit en hulle dogter Sophia (11) het agter Sillo gesit. Die ander kinders, onderskeidelik 14, 14 en 17 jaar oud, het agter in die bakkie onder die kap gesit.

“Uit die staanspoor het een van die verdagte mans net bloot op ons en die bakkie geskiet.”

Yvonne onthou die man wat geskiet het, het van die linkerkant van die bakkie geskiet. “Die eerste skoot het nie afgegaan nie. Hy het weer geskiet en die spieëltjie aan die linkerkant van die bakkie getref.”

Allen sê almal was verbaas oor die wapen wat by die ruit net ‘n geluid gemaak het en nie afgegaan het nie, maar die verdagte het teruggetree en weer die sneller getrek. “Die skoot het hierdie keer afgegaan en net onder die ruit getref. Ons almal se ore het van die knalgeluid gesing.”

Dit is toe die familie besef het daar is moeilikheid. Terwyl hulle met die wapen gedreig is, is hulle beveel om al hullle besittings te oorhandig.

“Ons was besig om besittings uit die bakkie te gooi, toe die man sonder ‘n vuurwapen na my kant van die bakkie kom. Hy het aan die bestuurdersdeur gepluk om dit te probeer oopmaak, maar die deur wou net nie oopgaan nie. Ek vermoed hulle wou die vroue uit die bakkie kry.”

Yvonne sê die deur wou weens onbekende redes net nie oopgaan nie. Die man het so hard probeer, hy het eintlik die deurhandvatsel afgebreek.

“Met dié wat my deur nie wou oop nie, is die man na die deur waar Yvonne gesit het en sy is uit die bakkie gepluk. Ek het paniekerig geraak en het ook probeer om sonder sukses uit die bakkie te kom. Die man met die wapen was baie aggressief en het toe reeds ook na die voorruit geskiet. In hierdie stadium het hy weer geskiet en weer het die skoot nie afgegaan nie.”

Yvonne vertel verder: “Ek is hardhandig op die grond gegooi, terwyl daar vir my geskree is ek moet op die grond bly kyk. Ek is van agter geslaan, my hande met ‘n selfoonkabel agter my rug vasgebind en daarna is ek in die agterkant van die bakkie onder die kappie by die ander drie meisiekinders ingegooi.”

Allen onthou hoe die man met die wapen geskree het: “Must I shoot? Must I shoot? Klein Sophia, nog in die voorkant van die bakkie by my, het geskree: ‘No, don’t shoot, don’t shoot, don’t shoot!’ Ek kon sien die man wou net doodmaak.”

Hierna is Sillo se hande, terwyl hy aan aanranding onderwerp is, deur die man sonder die wapen met sy skoenveters vasgebind. Allen sê dit was aaklig om te sien wat hulle met sy vrou doen.

Yvonne sê sy het agter in die bakkie vir Hazel (10) gevra om haar hande los te maak. “Sillo is toe by ons ingegooi. Die man sonder die wapen, wat vasbind en aanrand, het toe vir Kari (14), my dogter se vriendin, aan die been gegryp en uit die bakkie probeer trek. Ek het gekeer en met hom baklei, waarna hy my in die gesig geslaan het.”

“Die wapen was steeds op ons en ek kon nie uit die bakkie kom nie. Die volgende oomblik het Yvonne geskree ek moet ry. Ek onthou ek het geskree ek kan nie. Sy het weer geskree ek moet ry, waarna die verdagte man haar deur die gesig geslaan het,” sê Allen.

Allen verduidelik die meisies het in daardie stadium so hard geskree dat dit gelyk het asof dit die man met die wapen pla. Hy het na die agterkant van die bakkie beweeg, en Allen kon sy kans waarneem. Hy het vir almal geskree om vas te hou en het met ‘n spoed weggery.

“Ons is met God se genade, ek weet nou nog nie hoe nie, oor daardie groot klippe,” sê hy.

Met die jaagtog, vertel Allen en Yvonne, het die man met die wapen steeds geskiet en een van die koeëls het net aan die bokant van Avery (7) se kop verbygegaan.

“Omdat die bakkie nog agter oop was, het ek Sillo aan sy hemp vasgehou, sodat hy nie uitval nie,” sê Yvonne.

Tydens die insident is die bakkie vier keer getref, maar geen persoon is raakgeskiet nie. Die twee verdagte mans is as jonk en slank beskryf. Hulle kon met ‘n bankkaart, twee selfone en ‘n tablet wegkom.

Maar dit is nie waar die gesin se probleme geëindig het nie.

Allen vertel hulle is dadelik na die Mdumbi-polisiestasie toe, toe hulle op die teerpad was. By die polisiestasie is twee polisielede aangetref. Allen verduidelik sy hand het gebloei en hy het vir hulle gesê daar is op hulle geskiet en as die polisie vinnig reageer, hulle heel waarskynlik nog die verdagtes sal kan aankeer. “Die polisielede het onwillig gelyk om my te help. Ek is uit na die bakkie waar almal steeds gehuil het. ‘n Polisievrou het uitgekom om ons te kalmeer, terwyl die twee lede gesê het hulle kan weens die krag wat af is, nie ‘n verklaring neem nie.”

“Ons wou dadelik ‘n saak oopmaak, maar met dié wat die polisie gesê het hulle krag is af en hulle is nie aanlyn nie, het ons besluit om na Coffee Bay Lodge, waar ons tuisgegaan het, terug te keer. Ons het opgepak en teruggery Kimberley toe,” verduidelik Yvonne.

Allen sê hulle kon weens die sneeu net tot by Elliot ry, waar hulle oornag het.

“Ons het Sondagoggend 22 Oktober omstreeks 10:30, ‘n saak by Barkly Oos-polisiestasie oopgemaak,” vertel Yvonne verder.

Allen sê: “Ek het die koeëlpunte wat in die bakkie was, as bewysstukke aan die polisie oorhandig.”

Allen vertel op 25 September was die saak nog nie by Mdumbi-polisiestasie ontvang nie. “Ek het selfs gevra my eie verklaring moet vir my gestuur word, sodat ek kon sorg dat dit daar kom. Die polisieman was daarna onbeskof en het vir my gesê daar is niemand nie en ek moet die volgende dag laat eers weer terugbel. Ek het aan hom verduidelik die skuldiges is nog daar buite, dit is belangrik vir die saak om in Mdumbi uit te kom. Ek het verduidelik dit is net papierwerk wat aan my gestuur moet word, waarna die polisieman op my geskree het en gevra het wie ek dink ek is. Ek het aan hom gesê hy weet nie wat ons deurgemaak het nie, waarna hy aan my gesê het hy gee nie ‘n f*k om vir waardeur ons is nie.”

Allen sê na baie oproepe en hulp van hulle ma het hulle by Brad Nathanson Investigations uitgekom en word hulle nou bykans daagliks deur die polisie gekontak.

Terwyl Yvonne sê hulle het ‘n SMS-boodskap ontvang wat gesê het die saak is afgesluit, sê Allen Mdumbi-polisiestasie het vanoggend, na twee weke, bevestig hulle het die papierwerk ontvang.

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief