Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat sê hy staan by sy bevindings dat polisiebeamptes die wet oortree het in die ondersoek na die Phala Phala-plaasinbraak.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die ondersoek het slegs gefokus op die optrede van polisiebeamptes, soos deur wetgewing vereis en nie op die kriminele elemente van die saak self nie. Volgens Opod het genl.maj. Wally Rhoode en konst. Hendrick Rekhotso die SAPD-wet oortree deur nie ’n voorgeskrewe misdryf betyds by hul bevelvoerder aan te meld nie. Daar is ook bevind dat hulle nie ’n saak behoorlik geregistreer het nie en dat sekere prosedures nie nagekom is nie. Die ondersoek is reeds in 2023 afgehandel, maar die verslag is eers in 2026 bekend gemaak om nie ander ondersoeke te benadeel nie. Opod sê hy hou voet by stuk dat sy bevindings en aanbevelings korrek is, ondanks die polisie se eie interne ondersoek wat tot ’n ander gevolgtrekking gekom het.
Die direktoraat sê hy sal voortgaan om onafhanklike ondersoeke te doen en beklemtoon die belang van aanspreeklikheid en behoorlike polisieoptrede.





