WES-KAAP. – ‘n Man (40) is Donderdagoggend 23 Mei omstreeks 10:30 by ‘n perseel in Angelierstraat, Gouda, doodgeskiet. Opod ondersoek die polisie se betrokkenheid by die man se dood.
Phaladi Shuping, woordvoerder vir die polisiewaghond Opod, het aan Nuusflits gesê die insident is aan Opod gerapporteer as “dood as gevolg van polisie-aksie”. Opod-ondersoekers was op die toneel en die saak word ondersoek.
Kapt. Frederick van Wyk sê die Tulbagh-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek en ‘n dossier vir poging tot moord geopen.
Volgens Die Son het ‘n onderonsie tussen die polisie en inwoners uitgebreek. Meer polisielede is ontbied en ‘n polisielid se vinger is glo deur die oorledene gebyt, waarna hy doodgeskiet is.
Bronne: Die Son, SAPD en Opod

