Ouers kan skadevergoeding vir kind se dood ná luiperdaanval eis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Die ouers van ‘n 30 maande oue seuntjie wat gedurende 2019 deur ‘n luiperd in die Krugerwildtuin doodgemaak is, is deur die Mbombela-hooggeregshof die groen lig gegee om skadevergoeding van SANParke te eis.

Die voorval het by die Malelane Tegniese Dienste se woonkwartiere plaasgevind, waar die vader as werknemer verplig was om te woon. Die kind is deur ’n luiperd aangeval en later in ’n hospitaal dood verklaar. Ná die aanval is twee luiperds in die onmiddellike omgewing geskiet.

SANParke het ’n spesiale pleit ingevolge artikel 35(1) van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COIDA) ingedien. Die organisasie het aangevoer dat die seuntjie se dood as ’n beroepsverwante voorval beskou moet word, wat enige gemeenregtelike eis deur die ouers sou uitsluit.

Waarnemende regter Zodwa Gumede het egter beslis dat die dood van die kind nie direk met die vader se diensverrigting verband hou nie en dat COIDA dus nie van toepassing is nie. Die hof het SANParke se spesiale pleit van die hand gewys en die pad oopgemaak vir die ouers om skadevergoeding vir onder meer begrafniskoste en emosionele trauma te eis.

Die hof het verder gelas dat SANParke die koste van die spesiale pleit moet betaal.

In ‘n verklaring wat deur SANParke uitgereik is, sê JP Louw, hoof van kommunikasie en woordvoerder, en Reynold “Rey” Thakhuli, algemene bestuurder: kommunikasie van SANParke: “Ons is as ’n staatsentiteit daartoe verbind om aan die bevindings van ons howe te voldoen. Ons bestudeer ook die hof se uitspraak vir ’n dieper begrip van die bevindings soos uiteengesit deur waarnemende regter Zodwa Gumede.”

Bronne: SANParke, IOL en  Danel Campbell Attorneys

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief