GAUTENG. – Joseph Molwana (25), ’n Mosambiekse burger, en Zanele Njobe (20), ‘n egpaar van Soshanguve, is vir die moord op Sphesihle Nonlanhla Njobe, hul eenjarige dogter, deur die Pretoria-Noord-landdroshof gevonnis.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die paartjie het op 15 Mei 2022 by Njobe se woonplek oornag. Die volgende oggend het hulle opgemerk dat hul kind nie reageer nie en het die bure ontbied, waarna vasgestel is die kind is dood. Die polisie is ontbied en het die egpaar op die toneel in hegtenis geneem. In die hof het albei beskuldigdes onskuldig gepleit en beweer hulle weet nie wat met die kind gebeur het nie. Hulle het gesê die kind het die vorige aand gehuil, maar hulle het uiteindelik aan die slaap geraak.
Hanlie du Preez, die staatsaanklaer in die saak, het egter getuienis van ’n patoloog gelewer wat ernstige mishandeling bevestig het. Die kind het vier gebreekte ribbes, kneusplekke en bytmerke aan haar liggaam gehad.
Die verdediging het tydens vonnisverrigtinge gevra daar moet van die voorgeskrewe minimum vonnisse afgewyk word, met verwysing na Molwana se status as ’n eerste oortreder en Njobe se minderjarigheid en gebrek aan ouerlike leiding. Du Preez het egter aangevoer dat die voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf toegepas moet word, aangesien die paar ernstige misdrywe teen hul eie kind gepleeg het. Sy het ook aangevoer dat die gemeenskap ontsteld is oor die misdaad en verwag dat die hof ’n duidelike boodskap sal uitstuur.
Landdros Pieter Nel het in sy uitspraak saamgestem met die vervolging en bevind dat die paar geen berou getoon het nie, en dat die kind onder langdurige mishandeling gely het. Hy het beklemtoon dat die gemeenskap teen sulke individue beskerm moet word.
Molwana is vir die voorafbeplande moord op sy dogter tot lewenslange tronkstraf gevonnis en Njobe, wat ten tyde van die misdaad ’n minderjarige was, is ingevolge die kinderregtewet vir dieselfde oortreding tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Beide is verder elk tot vyf jaar direkte tronkstraf vir kindermishandeling gevonnis, met Molwana bykomend tot nog twee jaar direkte tronkstraf vir onwettige verblyf in die land.
Die hof het beveel dat al Molwana se vonnisse gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien moet word. Beide beskuldigdes is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk of om vuurwapens te besit.
Volgens die NVG stuur hierdie vonnisse ’n sterk boodskap uit dat geslagsgebaseerde geweld en misdade teen kinders steeds prioriteit geniet en sonder vrees of guns vervolg sal word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





