GAUTENG. – Die polisie het bevestig dat die 4-jarige meisie wat vroeër hierdie week ernstig beseer in Eldorado Park aangetref is, Vrydag in ‘n hospitaal aan haar beserings beswyk het. Die saakdossier is nou aangepas na moord en ’n verdere aanklag van verkragting is bygevoeg. Die kleuter se pa (32) en ma is in hegtenis geneem.
Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die pa is Woensdag in hegtenis geneem nadat die polisie op ’n klag van kindermishandeling gereageer het. Met aankoms by die adres in ‘n sinkhut in ‘n agterplaas in Eldorado Park is die pa saam met ’n seun en ’n meisie (4) aangetref. Die 4-jarige, wat op ’n bed gelê het, het kopbeserings, kneusplekke en ’n geswelde oog gehad. Die man, wat homself as die kinders se pa voorgestel het, kon nie verduidelik wat met die kind gebeur het nie. Die kind is dadelik na ’n mediese sentrum vir behandeling geneem en die pa is in hegtenis geneem. Hy is aanvanklik van poging tot moord en kindermishandeling aangekla.
Verdere ondersoek deur GKS het tot die ma se inhegtenisneming op aanklag van regsverydeling gelei. Die pa het Vrydag in die Protea-landdroshof verskyn.





