KWAZULU-NATAL. – Die ontbinde liggaam van ‘n vermiste man (29) is Donderdag in ‘n puttoilet in die Mwolokohlo-woonbuurt in Ndwedwe gevind. ‘n Pa (48) en seun (25) is op klagte van moord in hegtenis geneem.
Kol. Robert Netshiunda sê die seun is aanvanklik op aanklag vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gearresteer. Tydens ondersoek is vasgestel ‘n vermiste persoon was laaste saam met die verdagte opgemerk. Verdere ondersoek het aan die lig gebring die verdagte het glo die vermiste persoon doodgemaak en toe in die puttoilet gegooi. Die puttoilet is daarna vernietig. Donderdag is ‘n soektog geloods en die liggaam is gevind.
Netshiunda sê die twee verdagtes word ook met twee ander moordsake verbind.
In Mei is ‘n veiligheidsbeampte vermoor. Sy liggaam is met ‘n tou vasgebind in ‘n pad gevind. In Januarie 2021 is nog ‘n man met ‘n mes gesteek en ‘n paar meter van die verdagtes se huis in ‘n pad gelos.
Netshiunda sê ondersoek word nog gedoen om vas te stel wat die verdagtes se beweerde betrokkenheid in die moord van ‘n swanger vrou op Umlazi is.
Die pa en seun sal Maandag 26 Augustus op aanklagte in die Ndwedwe-landdroshof voorkom.





