LIMPOPO. – ‘n Kleuterseun (2) se verminkte liggaam is Sondagoggend deur die polisie op ‘n bed in die Shongoane-woonbuurt buite Lephalale (Ellisras) aangetref.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie is deur die gemeenskap na die woonbuurt in die Villa Nora-polisiërinsgebied buite Lephalale ontbied. ‘n Verdagte (22), die kleuter se biologiese pa, is met van die slagoffer se liggaamsdele in sy besit aangetref. Die pa is gearresteer en vir moord aangekla.
“Hierdie sinnelose moord het baie in skok gelaat. Die motief daaragter is nog onbekend, maar ‘n rituele moord kan nie uitgesluit word nie,” het kol. Ledwaba gesê.
Terwyl die polisie se ondersoek voorduur, sal die verdagte binnekort op aanklag van moord in die Phalala-landdroshof voorkom.





