VRYSTAAT. – ‘n Pa (48) is deur die Ladybrand-streekhof vir die verkragting van sy dogter (8) gedurende 2020 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die NVG verwelkom die vonnis. Die pa se naam word ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring. Gedurende 2020 was die minderjarige dogter aan die pa se sorg toevertrou waartydens hy haar op twee geleenthede verkrag het. Die eerste keer was op haar sesde verjaarsdag. Die hof het gehoor hoe die pa bloed van sy dogter met mediese gaas weggesteek het. Hy het selfs ‘n vals aanklag teen sy dogter se oorlene stiefpa gemaak om die lang arm van die gereg vry te spring.
Die slagoffer het aangemeld wat met haar gebeur het. Dit is deur ‘n mediese ondersoek bevestig, waarna die verdagte deur die polisie in hegtenis geneem is. Die pa het regdeur die verhoor volgehou dat hy onskuldig is en het ook onskuldig gepleit.
Marie Yzel, die streekhofaanklaer, het die hof van die emosionele impak op die slagoffer ingelig en beklemtoon dat die beskuldigde geen berou getoon het nie. Die hof het geen rede gevind om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk nie.
Die NVG het die slagoffer se moed en die werk van aanklaer Yzel en speurder Tshepo William Olebile geprys. Families is ook aangemoedig om mishandeling aan te meld en ondersteuning by Thuthuzela-sorgsentrums te soek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





