Pa se bewusmaking nadat dogter by skool seerkry

Lees ook :

Foto: Gerhard Sinden

MPUMALANGA. – Gerhard Sinden, ‘n pa van Lydenburg, het ‘n ope boodskap ter bewusmaking deur ‘n sosialemediaplasing aan ander ouers gerig. Mianay (10), sy dogter, is Donderdag by die skool gepootjie en het ernstig seergekry.

“As JY jou kind enigsins iets kan leer hier uit, leer jou kind omgee vir ‘n ander, respek en liefde vir ‘n ander, dan sal die skole ‘n beter plek wees. Ek sien hierdie resultaat van MY kind as ‘n voorbeeld van JOU kind se opvoeding in jou huis, hoe jy jou kind grootmaak en die waardes wat jy toepas in jou huis, jou kind verdien ‘n beter voorbeeld as jy.”

Mianay was na die insident met harsingskudding en ‘n gebreekte gewrig in die hospitaal opgeneem. Sy moes boonop ‘n noodoperasie ondergaan. Sinden, wat ontsteld was, het gesê leerders het gelag terwyl Mianay op die vloer lê.

Sinden sê in ‘n boodskap aan Nuusflits die grootste doel met sy plasing is bewusmaking vir kinders en ouers.

Enkele dae na Mianay se operasie het Sinden in ‘n opvolgplasing gesê dit gaan beter met haar, sy het fisioterapie ontvang en daar lê ‘n lang pad van herstel voor. Hy het ook ander ouers vir boodskappe van ondersteuning bedank.

“Hierdie goed gebeur en ons as ouers verstaan kinders dink nie altyd voor hulle iets doen nie, maar waarvoor ons wel vra, is dat julle as ouers wat volwasse is, julle kinders, groot of klein, sal bewus maak van die gevaar om iemand te pootjie, te stoot of te stamp. Ons is nie kwaad vir die skool of kind nie, maar ons hoop dat hierdie bewusmaking van wat met ons kind gebeur het jou as ouer en kind ons sal help om hierdie tipe gedrag in skole en buite skole hok te slaan. Ons is baie dankbaar dat ons ‘n medies het en dat ons kind ‘n baie goeie dokter gehad het, maar ons harte bloei vir die kinders wat die tipe trauma moet deurgaan en boonop geen medies het nie.”

Sinden beskryf Mianay as ‘n sagte dogter met ‘n omgeehart.

“Sy is nie kwaad vir die maatjie nie en sien nou weer baie uit om weer terug te keer skool toe.”

Sinden beklemtoon bewusmaking in nog ‘n opvolgplasing en sê sy boodskappe is nie om Mianay se skool en onderwysers in ‘n slegte lig te plaas nie.

“Ons het geen behoefte om regstappe te vat nie, inteendeel is ons baie dankbaar dat ons kind okay gaan wees en ons as ouers sal SEKER maak daarvan. Wat ek rêrig graag hiermee sal wil bereik, is dat Mianay se storie wyd versprei sal word en dat ouers net weer sal begryp dat ons ten alle tye moet bewus wees van ons kinders se gedrag, of dit nou by die huis of skool is. Wees bewus van jou kind se gedrag. Onderwysers is daar om ons kinders te leer, jy as ouer is daar om jou kind op te voed, jy kan nie verwag dat onderwysers jou kind waardes leer nie. Dit is iets wat by die huis geleer word, en ongelukkig in sommige huise bestaan dit nie. Toe ek op skool was, het hierdie tipe storie net daar gebly vandag, danksy sosiale media soos Facebook kan ons baie meer doen en bereik as in die verlede.”

Sinden vertel aan die einde van sy plasing van ‘n onderwyser van Nelspruit wat die plasing raakgesien het.

“Na hy my plasing gesien het, het hy vir my gesê: ‘Gerhard, ek wil net vir jou so baie dankie sê vir hierdie plasing, jy sal nie glo nie, maar jy het al wat ‘n onderwyser in ons skool is, in rep en roer gehad. Hulle het hierdie alreeds gedeel met hulle leerders. Hulle as onderwysers het net weereens besef jy kan nooit te gemaklik raak met leerders nie en daar moet altyd nuwe maniere in plek wees om aan kinders se gedrag te werk vir die beter.’ En dit is wat ons graag sal wil bereik, dat hierdie hele storie ‘n positiewe impak sal hê op elke liewe leerder en ouer daarbuite sodat JOU en MY kind in ‘n veilige omgewing kan KIND wees,”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App