WES-KAAP. – ‘n Pa het Saterdag glo eers sy seun in die nek gesteek, waarna hy homself gesteek het. Paramedici was by die Engen-vulstasie in Durbanville toe die ma, met ‘n bebloede kind in haar arms, langs hulle stop.
Titanium Securitas sê dié diens se mediese reaksie-eenheid het omstreeks 11:40 in die ambulans gesit en verversings genuttig, toe ‘n voertuig met ‘n ma en haar bebloede kind teen ‘n hoë snelheid langs hulle stilhou. Die seun het lewensbedreigende steekwonde aan sy nek opgedoen. Hy is dadelik in die ambulans gelaai in’n poging om hom te stabiliseer en na Durbanville Mediclinic vervoer.
Met aankoms by die hospitaal het paramedici verneem die pa het homself ook gesteek en was in ‘n kritieke toestand, steeds met ‘n mes in ‘n kamer. Hy is deur die polisie gearresteer, waarna hy op die toneel behandel en onder polisiebewaking na ‘n mediese fasiliteit geneem is.
Titanium Securitas bedank Durbanville-Mediclinic en die Durbanville-polisie vir hulp op die toneel.