Pa vir digitale mensehandel, verkragting van sy minderjarige kinders gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Pa (27) is Maandag deur die Paarl-streekhof op verskeie aanklagte van digitale mensehandel en seksuele misdrywe teenoor sy eie minderjarige kinders skuldig bevind. Hy is effektief tot 35 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die hof het beveel dat hy twee-derdes van sy vonnis moet uitdien voordat hy vir parool oorweeg kan word.

Die naam van die beskuldigde word weerhou om die identiteit van sy kinders, twee dogtertjies van onderskeidelik ses en vier jaar en ’n seun van een jaar oud, te beskerm. Om sekondêre viktimisasie te voorkom is die saak deur middel van ’n pleit- en vonnisooreenkoms afgehandel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê die pa is skuldig bevind op twee aanklagte van mensehandel vir aanlyn-uitbuiting, vier aanklagte van verkragting van twee minderjarige kinders, drie aanklagte van die gebruik van kinders of om voordeel uit kinderpornografie te trek, 629 aanklagte van die besit van kinderpornografie, drie aanklagte van die onwettige verspreiding van kinderpornografie en drie aanklagte van kindermishandeling. Alhoewel die totale vonnis 195 jaar beloop, het die hof beveel dat die meeste vonnisse gelyklopend uitgedien word.

Die beskuldigde is op 4 Maart 2018 met die kinders se ma getroud en was werkloos – daarom het hy tuis gebly en die kinders versorg. Hy het by ’n sosiale media-platform aangesluit, waar hy kinderpornografiese materiaal van sy eie kinders vir geldelike gewin gelaai het. Hy het $5 tot $10 per item van verskeie onbekende individue ontvang. Hy het ook direk met die adminisrateur van die groep kontak gehad.

‘n Ondersoeker van die Amerikaanse Federale Buro vir Ondersoek (FBI) het as die groep-administrateur opgetree en het op 22 Desember inligting aan die SAPD verskaf, waarna die pa op 30 Mei 2023 in hegtenis geneem en op sy selfoon beslag gelê is.

Adv. Evadne Kortje, die senior staatsaanklaer in die saak, het gesê die beskuldigde het bygedra tot die seksualisering van kinders, wie se onskuld ten alle koste beskerm moes word.

Ugashnee Gangadu, die streeklanddros in die saak, het in sy vonnisoplegging verwys na die toenemende misbruik van moderne tegnologie om kinders mee uit te buit.

Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief