OOS-KAAP. – ‘n Pa (54) wat sy biologiese tweelingdogers verkrag het toe hulle 11 jaar oud was, is deur die Mount Fletcher-streekhof tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis. Om sy dogters te beskerm, word die pa nie geïdentifiseer nie.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê die tweelingdogters, van wie een verstandelik gestrem, is by verskeie geleenthede, oor ‘n tydperk van ongeveer 10 jaar, verkrag. Buiten die lewenslange tronkstraf is die pa tot vyf jaar op elk van die twee aanklagte van seksuele aanranding gevonnis.
Die tweeling het by die beskuldigde gebly sedert hulle ma in 2011 gesterf het. Hy het glo met onvanpaste aanraking begin, waarna hy sy een dogter herhaaldelik verkrag het, totdat sy in 2019 werk gekry het. Hy het daarna begin om die verstandelik gestremde dogter te verkrag.
Die tweelingdogter wat werk, se toesighouer het opgemerk sy ondervind sielkundige probleme en het uitgevra, waarna sy van die verkragting uitgevind het. ‘n Ouer suster van die tweeling is ingelig en die pa is gekonfronteer, maar het die beskuldigings ontken. Die verstandelik gestremde suster het egter vertel sy is verkrag, waarna die tweeling se oom ‘n saak help open het. Die pa is daarna gearresteer.
Tyali sê die pa het tydens die verhoor onskuldig gepleit. Hy het verduidelik hy is vals beskuldig, omdat hulle nie wou hê hy moet sy verstandelik gestremde dogter se gestremdheidstoelaag hou nie. Hy kon egter nie onder kruisverhoor die beskuldigings van al sy kinders verduidelik nie.





