Brekende Nuus
Afrikaans

Pa wat glo babaseun vermoor in hegtenis

Die verdagte pa wat glo na 'n rusie met sy babaseun in 'n rugsak die huis uit is, is in aanhouding.

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Die verdagte pa (31) wat glo op 9 Maart sy baba wat twee maande oud was, vermoor het nadat hy met die kind in ‘n rugsak by die huis uit is, is in aanhouding. Die baba is dood in ‘n veld aangetref.

Sers. Timothy Sam sê die verdagte is Sondag in hegtenis geneem vandat hy sedert die moord op vlug was. Die gemeenskap op Kenhardt het hom aangekeer en aan die polisie oorhandig.

Hy bly tot sy volgende hofverskyning op 3 April in aanhouding.

Lt.genl. Koliswa Otola het die gemeenskap vir hul aktiewe rol in die opsporing van die verdagte geprys.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

‘n Babaseun (2 mnde. oud) se liggaam is Sondagoggend in ‘n veld naby sy ouerhuis op Kenhardt gevind nadat sy pa (29) glo tydens ‘n argument die baba in ‘n rugsak gesit en met hom die huis verlaat het.

Volgens sers. Omphile Masegela ondersoek die Kenhardt-polisie die baba se moord nadat die pa na bewering die baba van die ma weggeneem en die kind toe dood gevind is. Die ouers het glo Saterdagaand ‘n rusie gehad waarna die pa met die baba in die rugsak weg is.

Die polisie is ontbied en ‘n soektog is na die verdagte en baba geloods, waarna die baba se liggaam in die veld ontdek is. Die verdagte word tans steeds gesoek.

Enigiemand met inligting kan AO Elrich Minies op 060 984 3520 bel.