OOS-KAAP. – ‘n Pa (54) wat sy 8-jarige seun op Peddie aan ‘n paal vasgeketting en verkrag het, is tot lewenslange en nog vyf jaar tronkstraf gevonnis
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê die lewenslange tronkstraf is vir die verkragting en die vyf jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, opgelê.
Die pa het die seun op 21 Mei 2023 beveel om hout te gaan haal toe hy van die skool af kom. Toe hy terugkom, is hy aan die paal in die huis vasgeketting en verkrag. Hy het daarna die huis gesluit en die seun daar gelos. Die seun kon daarin slaag om homself los te kry en het met die ketting aan sy enkel vir hulp na die bure gehardloop.
“Lede van die gemeenskap is deur die buurman in kennis gestel en die polisie is ontbied. Die oortreder is die volgende dag in hegtenis geneem, terwyl hy in ‘n familielid se huis in Motherwell, Gqeberha, meer as 200 kilometer van die misdaadtoneel, weggekruip het.”
Tyali sê die minderjarige slagoffer het in camera getuig en het in sy slagofferimpakverklaring gesê hy wil nie weer sy pa sien nie. Die slagoffer se ma het ook ‘n slagofferimpakverklaring gemaak. Nog twee getuies is aangehoor en ‘n doktersverslag oor die slagoffer se beserings is aan die hof oorhandig.
“Ten spyte van sy blote ontkennings is die beskuldigde skuldig bevind.”
“Met die uitspraak van die vonnis het landdros Fritz met die aanklaer saamgestem dat die mees verswarende faktore was dat die veroordeelde verkragter-pa sy seun soos ‘n dier vasgeketting het en hom verkrag het, die vertroue wat die jong siel in hom as ouer gehad het, verraai het.”
Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en die veroordeelde se naam sal in die nasionale register vir seksoortreders aangebring word.
Die NVG het die vonnis verwelkom.