Paar vir versekeringsbedrog en geldwassery gevonnis terwyl een in tronk is

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Ricardo Bowkers en Desiree Bowkers is op 22 aanklagte van bedrog en geldwassery direk deur die Oudtshoorn-streekshof tronk toe gestuur. Ricardo Bowkers was in ‘n tronksel toe vals eise vir lewensversekering gemaak is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Ricardo Bowkers is op 13 aanklagte van bedrog en nege aanklagte van geldwassery skuldig bevind. Hy sal nie vonnisse saam uitdien nie, maar effektief 26 jaar direkte tronkstraf uitdien. Volgens die hof se vonnisoplegging moet twee derdes van sy vonnis uitgedien wees voordat hy vir parool oorweeg kan word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Desiree Bowkers is op nege aanklagte van bedrog en agt aanklagte van geldwassery skuldig bevind. Haar vonnisse sal gelyktydig uigedien word, wat beteken sy sal sewe jaar direkte tronkstraf uitdien. Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Tydens die skuldigbevinding op 15 Maart en vonnisoplegging op 10 April was Ricardo Bowkers in die tronk vir ‘n vonnis van 12 jaar vir ‘n misdaad wat hy in 2016 teen Mutual and Federal Insurance gepleeg het.

Ricardo Bowkers is tydens sy laaste vonnisoplegging in 2016 gewaarsku dat hy in terme van Artikel 286 van die Strafproseswet as gewoontemisdadiger verklaar kan word indien hy met sy misdade sou voortgaan. Misdade voor 2016 sluit diefstal, bedrog, roof en aanranding in.

In die huidige sake het hy ‘n polis van Santam Insurance uitgeneem en sy vrou twee bankrekenings in hul minderjarige seuns se name oopgemaak. Sy het ‘n selfoon en verskillende SIM-kaarte na haar man in die tronk op Oudtshoorn gesmokkel en die seuns se rekeningbesonderhede aan hom gegee. Ricardo Bowker het dan op verskillende selfoonnommers versekeringseise uit die gevangenis gemaak. Hy het verskeie name, naamlik; C Botha, D Claassen, A Lukas, A Baartman, R Witbooi, M Mentoor, B Pretorius, JJ Botha, DL Heyns, en G Tyers, gebruik.

Santam Insurance, wat geglo het die eise is werklik, het dit vir “verlore” selfone, ‘n skootrekenaar en videokameras in die rekeninge uitbetaal. Daar is seker gemaak die eise beloop nooit meer as R10 000 nie, andersins sou ‘n assessor na die eiser toe moes gaan.

Ntabazalila sê die eise teen Santam Insurance is gemaak in die tyd wat Ricardo Bowkers op verhoor vir aanklagte teen Mutual and Federal Insurance was. Hy word beskryf as ‘n persoon wat geen respek vir die regsisteem het nie. Terwyl sy vrou in die vorige sake van 2016 vrygespreek was, was sy nou weer vrywillig betrokke in die pleeg van die misdade. Hy sou nie die misdade sonder haar kon pleeg nie.

“In an affidavit, state witness Stephanus Van Der Merwe, Project Manager of the Insurance Crime Bureau (ICB), states that R55 billion in short-term insurance claims are made in South Africa annually. About 15% of all those claims contain an element of fraud which equates to a loss of R8,25 billion per annum.”