VERMAAKLIKHEID, WES-KAAP. – Die besittings van ’n man (40) en vrou (18) is Saterdagmiddag in ’n kano op die Duiwenhoksrivier gevind. Polisieduikers het die soektog na die twee persone vanoggend hervat nadat dit gisteraand gestaak is.
Volgens die vermiste vrou se pa is die paartjie glo al Vrydagoggend vroeg vanaf hul huis op Vermaaklikheid na die Duiwenhoksrivier om met ’n kano te vaar en vis te vang. Daar is eers Saterdag alarm gemaak nadat net hulle besittings in die kano in die rivier gevind is.
Suid-Kaap Forum berig die vermoede bestaan dat die kano moontlik omgeslaan en die paartjie dalk verdrink het.
Die SAPD se hulp is ingeroep en die soektog duur voort.
Bronne: Suid-Kaap Forum, Facebook





