WES-KAAP. – ‘n Paartjie is Saterdag, omstreeks 01:30, in ‘n gastehuis op ‘n plaas in die Franschhoek-omgewing oorval, gesteek en beroof.
Lt.kol. Malcolm Pojie sê aan Nuusflits die Franschhoek-polisie het ’n saak van huisroof geregistreer. Die paartjie is na bewering deur drie gemaskerde mans, vermoedelik buitelanders wat met messe bewapen was, in hul kamer oorval. Die mans het toegang tot die kamer verkry deur die man in die been te steek. Die paartjie is met ’n kamerjas vasgebind en van persoonlike besittings, insluitend klere, selfone, bankkaarte en ander waardevolle items beroof. Die verdagtes het daarna gevlug.
Die paartjie kon hulself ná sowat ’n uur bevry en het die eienaar van die voorval in kennis gestel, wat die polisie ontbied het. Paramedici het die paartjie op die toneel behandel. Daar is ook in twee ander kothuise wat leeg staan op die plaas ingebreek en goedere, insluitend ’n televisie-stel, is gesteel. Geen verdagtes is nog gevind nie.
Pojie vra enigiemand met relevante inligting om na vore te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





