LIMPOPO. – Duisende reisigers word op paaie verwag wanneer kerkbyeenkomste van 5 tot 7 September in Limpopo plaasvind. Padgebruikers word gemaan om verantwoordelik op te tree. Verkeersbeamptes is strategies ontplooi op hoofroetes en kruisings, insluitend die N1, N11, R101, R81, R71, R579, R37, R36, R40, R528, R574, R516, R521, D4040, D19, R524 en R523.
Violet Mathye, die LUR vir die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, sê in ‘n verklaring wat Donderdag vrygestel is, hulle is ten volle gereed om die toename in verkeersvloei te bestuur. Beamptes volg ’n benadering van geen-verdraagsaamheid teenoor roekelose gedrag soos spoedoortredings, oorlading, dronkbestuur en onpadwaardige voertuie. Die byeenkomste is die Moria-kerkbyeenkomste van die Zion Christian Church (ZCC) wat gedurende Paasfees en September buite Polokwane plaasvind.
“Ek doen ’n beroep op alle padgebruikers om veiligheid eerste te stel. Bestuur met geduld, versigtigheid en respek vir ander. Vermy moegheid, spoed en oorlading, wat van die hoofoorsake van ongelukke is.”
Mathye het besoekers ’n veilige reis, vreedsame verblyf en veilige terugkeer toegewens.





