KWAZULU-NATAL. – Twee pakhuise met vervalde kos uit die buiteland is Woensdagmiddag in die Bluff, suid van Durban, ontdek.
Kol. Robert Netshiunda sê geblikte vis, gaskoeldrank, sojabone, babakos en speserye wat meestal op skyfies gebruik word, vals voorskrifmedikasie, lyfroom en vervalde alkohol is onder meer in die pakhuise gevind. Hierdie items is saam met gevaarlike chemiese middels soos plaagdoders gestoor.
Netshiunda bevestig die polisie het tydens die operasie nog twee pakhuise met vals handelsmerkklere van miljoene rand ontdek.
“Ondersoeke is aan die gang om die mense wat vir die verkoop van vervalde kos verantwoordelik is, wat meestal by die township- en dorpspaza-winkels verkoop word, op te spoor, asook die invoerders van vervalste klere-items.”
Die polisie sal hulle toespits op vaartuie wat die land binnekom met goedere wat nie gemagtig is om in die land te wees nie.










