NOORD-KAAP. – Die polisie in die Namakwa-distrik het ’n groot hoeveelheid hidroponiese dagga in Springbok onderskep nog voordat dit by ‘n koerierpunt afgehaal kon word. Die straatwaarde word op R289 200 geskat.
Kapt. Ivan Magerman, Namakwa-polisiewoordvoerder, sê lede van die Springbok-hoofwegpatrollie en die Springbok K9-eenheid het Maandag kort voor 13:00 inligting ontvang oor ’n verdagte pakkie met ’n sterk reuk van dagga wat by ’n plaaslike koerierpunt afgee is. Die pakkie is oopgemaak en beamptes het een groot plastieksak met hidroponiese dagga gevind.
Volgens die polisie is die pakkie vanaf Durban gestuur en was dit bestem om deur ’n onbekende persoon afgehaal te word. Dis onderskep voordat dit afgehaal is of verspreiding kon plaasvind. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie en ’n ondersoek is geopen om die betrokkenes te identifiseer.
Die polisie in die Namakwa-distrik het beklemtoon dat hulle steeds onwrikbaar is in hul stryd teen dwelmhandel, wat ’n ernstige bedreiging vir gemeenskappe inhou.





