‘n Debat is tans in die parlement aan die gang oor die dreigement rakende vestings soos Orania en Kleinfontein. Carl Niehaus van die EFF, wat die mosie gebring het, het gesê plekke soos Orania en Kleinfontein is ’n gevaar vir Suid-Afrika se demokrasie.
Lees ook: MK wil weer Kleinfontein besoek, maak voorstel vir wetsontwerp oor art. 235 van grondwet
Hy het gesê: “Dit is nie bloot nedersettings nie, dit is enklaves vir rassesegregasie wat noukeurig ontwerp is om ons nasie te breek.” Niehaus het ook beweer die vestings se bedoeling is om nie-rassigheid te “saboteer” en om sosiale samehorigheid te vernietig.
Hy het ook gesê die EFF wil hê sulke vestings moet uitgeroei word en die ideologie waarop dit gebaseer is, moet permanent vernietig word, “want daar is nie plek vir rassisme in Suid-Afrika nie, nie nou nie, nooit nie”.
David Kgabo van die ANC het saamgestem met Niehaus en het gesê sulke nedersettings soos Orania en Kleinfontein is ’n direkte uitdaging van die demokratiese oorgang ná apartheid en dat dit “weerstand is teen ons grodwet se verbintenis tot nie-rassigheid in Suid-Afrika”.
Volgens Nathi Nxumalo van die MK-party “versterk (sulke vestings) wit oppermag en rassisme en ons moet stappe neem om die wond aan te spreek”. Hy het ook gesê die vestings is onlangs ongrondwetlik verklaar deur die hooggeregshof, maar is nooit vernietig nie.
Janho Engelbrecht van die DA het gesê die meeste Afrikaners ondersteun nie die ideologie wat deur hierdie gemeenskappe gebruik word nie. Hy het gesê die DA glo in die primêre waardes van die grondwet, wat mense se regte tot vryheid van assosiasie en kulturele uitdrukking beskerm solank die regte uitgeleef word binne die wet en die grondwet.
Die IFP het kommer uitgespreek oor die uitbreiding van “rassistiese vestings in ’n demokratiese Suid-Afrika” en dat dit “in direkte teenstrydigheid is met nie-rassigheid, gelykheid en eenheid”.
Volgens die is PA is nedersettings soos Orania en Kleinfontein ’n dreigement vir nasiebou, nie-rassigheid en sosiale samehorigheid, maar dat dit soortgelyk is aan die EFF se ideologie. Die PA het gesê “albei het leiers met rassistiese en separatistiese ideologiese sienings”.
Die FF+ het gesê die regte tot kulturele en godsdienstige praktyke is deel van die grondwet en het gevra wat die groter dreigement is: “rassistiese gemeenskappe of politieke partye wat mense intimideer en ‘witheid se keel wil afsny’”.
Acion SA het gesê sulke vestings is ‘n “verraaiing van ons demokratiese belofte”.
Bronne: Parliament of South Africa
Lees ook: Orania reageer op EFF se eise oor Orania se bestaansreg