Pa’s se drinkery speel wel rol in fetale alkoholspektrumversteuring

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

Dis bekend dat fetale alkoholspektrumversteuring (FASV) by kinders veroorsaak word deur ma’s wat tydens hul swangerskap gedrink het. ʼn Nuwe internasionale studie, waaraan navorsers van die Universiteit Stellenbosch ook deelgeneem het, het bevind dat pa’s se alkoholgebruik ʼn onafhanklike, al is dit beperkte, uitwerking op kinders se groei en ontwikkeling kan hê.

Volgens die studie, wat in die joernaal Alcohol: Clinical & Experimental Research, gepubliseer is, het kinders wie se pa’s tydens die ma se swangerskap gedrink het, korter gebly, kleiner koppe gehad en swakker gevaar in verbale IK-toetse. Die nadeligste uitwerking is waargeneem wanneer beide ouers tydens die swangerskap alkohol gebruik het, veral in gevalle van fuifdrinkery.

Data van vyf studies oor gr. 1-leerlinge in die Wes-Kaap is ontleed. Inligting wat deur biologiese ma’s of voogde verskaf is, het getoon dat tussen 66% en 77% van die pa’s alkohol gebruik het tydens die betrokke swangerskappe. Gemiddeld is 12 drankies per drinkdag deur hierdie pa’s aangemeld. ʼn Hoër aantal drankies per dag is direk gekoppel aan kleiner kopomtrek by kinders, wat as ʼn maatstaf van breinontwikkeling dien.

Navorsers wys daarop dat ʼn pa se drinkery alleen nie die waarskynlikheid verhoog dat ʼn kind met fetale alkoholspektrumversteuring (FASV) gediagnoseer sal word nie, maar waar beide ouers swaar gedrink het, was die risiko en erns van die simptome by kinders beduidend hoër.

“Ons bevindings toon dat pa’s se alkoholgebruik steeds, selfs nadat die moeder se drinkgewoontes in berekening gebring is, verband hou met korter kinders, kleiner kopgrootte en laer verbale IK,” het die navorsers gesê.

Hoewel dit nog onduidelik is of die impak van vaders se drinkery spruit uit veranderde spermkwaliteit of ander epigenetiese invloede, beklemtoon die studie dat die rol van pa’s in die ontwikkeling van FASV nie geïgnoreer kan word nie.

Die bevindinge word bekendgemaak kort voor Internasionale Fetale Alkoholsindroom-dag wat op 9 September val.

Bron: Martin Viljoen-verklaring, Universiteit Stellenbosch Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief