KWAZULU-NATAL. – ‘n 2.2 kg. Pasgebore babadogter is Sondagmiddag in Verulam in die besigheidsgebied uit ‘n stormwaterdrein gered.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê Chris Pillay, een van hulle motorfietsbestuurders, is kort voor 19:00 in Wickstraat voorgekeer om ‘n vreemde geluid te ondersoek. Die geluid was volgens die voetganger wat dit gehoor het, vermoedelik afkomstig van ‘n dier wat in die stormwaterdrein langs die pad beland het. ‘n Swart sak met ‘n baba daaarin is by die ingang na ‘n afgrond van verskeie meters by die mangat van die stormwaterdrein opgemerk. Die beampte kon daarin slaag om die sak te verwyder en die baba te red, terwyl hy hulp ontbied het.
Rusa-paramedici wat op die toneel aangekom het, het die baba se vuil klere verwyder en haar in ‘n droë uniformbaadjie gesit, voordat sy na Osindisweni-regeringshospitaal (OGH) geneem is. Watte op die baba se arm het paramedici laat vermoed sy is onlangs uit ‘n mediese fasiliteit ontslaan.





