KWAZULU-NATAL. – Die passasier in ‘n afleweringsvoertuig is Woensdag omstreeks 13:00 by Lions Rivier deur wespe gesteek nadat die swerm deur die voertuig gesteur is.
Midlands EMS Howick se gevorderde lewensondersteunende paramedici, Midlands EMS K9-reddingsparamedici, K9 Hunter en Howick se plaaslike ambulans is na die toneel. Die passasier het nie reageer nie en het erge anafilakse, ‘n lewensbedreigende allergiese reaksie, getoon. Weens die kritieke situasie is gevorderde lewensondersteunende resussitasie toegepas en medikasie toegedien. Die pasiënt is vir verdere mediese behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
“Ons prys die vinnige reaksie van alle betrokkenes, insluitend K9 Hunter, wat hul lewens in gevaar gestel het om ‘n gevaarlike situasie te betree waar noodwerkers ook benadeel kon word. Hierdie voorval dien as ‘n herinnering vir die publiek om versigtig te wees in gebiede waar wesp-, by- en perdebyneste kan voorkom.”
