GAUTENG. – ‘n Passasier wat aanvanklik medies geskik verklaar is om te reis, het Maandag aan boord van FlySafair-vlug FA417 van Durban na Johannesburg gesterf. ’n Interne ondersoek sal gedoen word om moontlike leerervarings uit die voorval te neem.
Kirby Gordon, bemarkingshoof van FlySafair, sê in ‘n verklaring mediese personeel is ontbied nog voordat die vliegtuig vertrek het en die passasier is geskik verklaar om te reis. Die passasier se toestand het egter vinnig tydens die vlug versleg. Kajuitpersoneel, saam met mediese professionele persone wat onder die passasiers was, het alles moontlik gedoen om te help, maar die passasier is dood verklaar nog voordat die vliegtuig kon land.
“Ons gedagtes en innige meegevoel is by die familie en geliefdes van die oorledene in hierdie baie moeilike tyd,” het Gordon gesê. Hy het bygevoeg dat die voorval ontstellend was vir almal aan boord en dat die maatskappy dankbaar is vir die begrip en geduld van passasiers, asook vir die mediese kundiges wat hulp verleen het. Die lugdiens het bevestig dat sy bemanning opgelei is om tydens mediese noodgevalle in die lug op te tree totdat professionele hulp beskikbaar is.
FlySafair het verder aangedui dat beradingsdienste vir passasiers en personeel wat deur die ervaring geraak is, beskikbaar gestel word.





