Lees ook: Sowat 20 mense steeds in intensiewe sorg na turbulensie op Singapoer-vliegtuig
SINGAPOER. – Passasiers wat verlede maand aan boord van die vliegtuig was wat erge turbulensie bo Mianmar ervaar het, sal vergoeding ontvang.
Singapore Airlines het reeds S$1 000 (Singapoer-dollars) aan elke passasier gegee wat in Bangkok moes vertoef. Die vlug moes noodgedwonge in Bangkok land toe minstens 104 mense beseer is en een persoon aan ‘n hartaanval dood is tydens erge turbulensie.
Die lugredery het gesê hulle het S$10 000 aan passasiers wat ligte beserings tydens die turbulensie opgedoen het, aangebied.
Passasiers met ernstige beserings is genooi vir samesprekings oor vergoeding wat aan hulle behoeftes sal voldoen. Hulle het reeds elk ‘n vooruitbetaling van S$25 000 ontvang.
Altesaam 104 van die passasiers het tydens die turbulensie beserings aan hulle rûe, koppe en spiere opgedoen. ‘n Britse toeris, Geoffrey Kitchen (73) is oorlede tydens die turbulensie, vermoedelik aan ‘n hartaanval.
Die voorlopige ondersoek dui daarop aan dat mense beseer is omdat hulle nie hulle sitplekgordels vasgemaak het nie.
Bronne: DW – South Africa, The Telegraph, The Mirror
Lees ook: Sowat 20 mense steeds in intensiewe sorg na turbulensie op Singapoer-vliegtuig





