VRYSTAAT. – ‘n Pastoor (37) verskyn vandag in die hof op ‘n aanklag van verkragting van ‘n tienermeisie (17) wat glo op Nuwejaar by haar huis in Zamdela verkrag is.
Sers. Josephine Rani sê die GKS (eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade) is deur maatskaplike werkers genader oor die voorval van ‘n swanger tienermeisie wat glo deur ‘n pastoor verkrag is. Die polisie het die slagoffer se ma ingelig en ‘n saak van verkragting is oopgemaak.
Na bewering was die slagoffer op 1 Januarie omstreeks 08:00 tuis toe die pastoor opgedaag het. Hy het glo die slagoffer na sy voertuig geroep en haar gevra om sy minnares te wees. Die meisie het glo geweier en die huis ingehardloop, waarna sy gevolg en in haar ma se slaapkamer verkrag is. Sy is glo gedreig haar ma en oom sal hulle werk verloor sou sy enigiets vir enigiemand vertel.
Rani sê die slagoffer is tans vyf maande swanger. Die verdagte sal vandag in die Sasolburg-landdroshof verskyn.





