GAUTENG. – ‘n Pastoor (41) van Jesus Is the Answer Ministries (JITAM) in Mamelodi-Oos is in die Pretoria-landdroshof tot lewenslange tronkstraf plus vyf jaar gevonnis. Die vonnis is vir die verkragting van ’n 12-jarige en die seksuele aanranding van ’n 13-jarige gemeentelid opgelê.
Luidens ‘n verklaring van Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, het die pastoor sy gesagsposisie misbruik deur die misdrywe tussen November 2021 en April 2022 te pleeg. Hy is in Augustus 2022 in hegtenis geneem en borgtog is geweier. Tydens die verhoor het die pastoor onskuldig gepleit en beweer dat die stiefpa hom vals beskuldig het omdat hy sy posisie in die kerk wou oorneem. Andries Ntjana, staatsaanklaer, het egter oortuigende bewyse aangebied, insluitend mediese getuienis deur dr. Lukhozi van die Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) en die getuienis van die slagoffers, wat die beskuldigde se skuld bo redelike twyfel bewys het.
Landdros Lynn Pillay het tydens vonnisoplegging gesê die beskuldigde het geen berou getoon nie en dat die hof gemeenskappe teen sulke oortreders moet beskerm.
Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en die pastoor se naam sal in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem word. Hy is ook onbevoeg verklaar om met kinders te werk of ’n vuurwapen te besit.





