Women For Change eis dat die minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, opdrag gee vir Alison Botha se verkragters se parool om deur die paroolraad hersien te word.
Alison Botha is in 1994 deur haar aanvallers Frans du Toit en Theuns Kruger in Gqeberha ontvoer, wreed verkrag, ontwei, byna onthoof en vir dood agtergelaat. Sy het wonderbaarlik oorleef en in Augustus 1995 het regter Chris Jansen in die hooggeregshof in Gqeberha aan Frans du Toit en Theuns Kruger lewenslange vonnisse opgelê.
Na 28 jaar agter tralies, op 4 Julie 2023, is Frans du Toit en Theuns Kruger deur die departement van korrektiewe dienste op parool vrygelaat.
Women For Change sê hulle is geskok en verslae dat hierdie twee mans, wat Alison “gevoelloos en wreed” aangeval het, sonder respek vir haar lewe of berou oor hul dade, terug in die Suid-Afrikaanse samelewing toegelaat word.
“Ons glo dat parool ‘n voorreg is, nie ‘n reg nie!”
Die beweging het ‘n petisie begin dat die twee verkragters se parool hersien word.





